Ons Storie

Dit is vroeg in Januarie 2018 en die bruid se pa sit in die deur van haar woonstel gelee in Eleazer Straat in Potchefstroom. Dit terwyl die bruid besig was om haar bokse uit te pak en haar woonstel, wat sy as ń eerstejaarstudent bewoon het, reg te kry vir die nuwe gedeelte van haar lewe.

Die dag toe die bruid vir die eerste keer na die woonstel kom kyk het in haar matriekjaar het sy in verbygans die outjie ontmoet wat langs haar bly. Alhoewel sy glad nie met hom beindruk was nie, het sy baie van die woonstel gehou en besluit dat sy daar wil intrek. Min het die bruid en die buurman geweet dat dit die begin van ń onverwagse liefdesverhaal sou wees.

In elkgeval, die bruid het angstig gewag vir die toe vervelige buurman, om sy verskyning te maak. Terwyl die bruid se pa in die deur van haar woonstel sit, kom die rooikop outjie met n wilde baard om die draai met die sleutel van sy woonstel in sy hand. Die bruid se pa het so gesit dat sy voete die ingang na die outjie se woonstel toegestaan het. Die outjie het verwagteng opgekyk na die bruid se pa in die hoop dat hy sy bene sou skuif sodat hy die deur kon oopsluit.

Hy groet die bruid se pa huiwerig en die dialoog tussen hulle was soos volg:

“Rook jy?”, vra die bruid se pa.
“Ja…”, se die buurman onseker van waarheen hierdie gesprek gaan.
“Drink jy?”, vra die bruid se pa.
“Ja…”, antwoord die buurman met die onsekerheid wat net groei.
“Vloek jy?”, vra die bruid se pa.
“Ja…”, se die buurman wie nou definitief besig was om te wonder as hy miskien moet omdraai en weghardloop.

Die bruid se pa draai toe sy kop na haar woonstel toe en skree by die deur in: “Denise, hier is iemand met wie jy oor die weg kan kom, kom ontmoet hom.”

Heel verlee het die bruid by haar woonstel uitgekom en haar buurman offisiel ontmoet. Van daar af het die bruid en haar buurman beter en beter oor dir weg begin kom. Die verhouding tussen hulle was eers onvoorspelbaar soos n bosbrand. Maar soos die vuur gewoed het, het dit die veld van hulle liefde vir mekaar skoon gebrand en so was die veld voorberei vir die somerseisoen se reen en groei. Totdat die buurman besluit het hy gaan die verhouding offisiel maak deur die bruid te vra om sy meisie te wees by die dam onder by haar ouma en oupa se huurhuis op n plaas naby Hazyview op die 6de Julie 2019.

Van daar af het die bruid en haar toe kêrel saam op verskeie avonture saam gegaan. Hulle het albei grade gevang aan die Noordwes Universiteit en aangegaan om te werk en saam in n eenslaapkamerwoonstel te bly in Edenvale. Saam het hulle ook baie struikelblokke deurgemaak, soos die haatlike COVID-19 pandemie en die bruid se klerkskap aan twee prokureers firmas en die moeite wat daarmee gepaard gaan, om die minste te sê.

Op die 11de Oktober 2025 het die buurman uiteindelik besluit om die bruid te vra om te trou in woud opset in Clarens. Wat ons nou by hierdie wonderlike aangeleentheid bring.

Die bruid en nou bruidegom het al baie klippe saam gekou en hoop om so aan te hou. Kom vier hulle bruilof wat gaan plaasvind op die 8st Augustus 2026 waar hulle saam met julle die volgende stap in hulle verhouding gaan neem.